Vroeg in Desember 2004, het eienaars Niël
en Laurika du Bois met Brolloks, ‘n Chev-lorretjie van
1950, hooggelaai met planke, toue en nette op Mosselbaai opgedaag – om
hul vrye gees uit te leef en ‘n seekos-eetplek êrens
op ‘n strand oop te maak.
Na dekades in die joernalistieke en korporatiewe wêreld,
en nadat die twee mekaar ‘n jaar tevore toevallig weer
na 20 jaar raakgeloop het, was dit ‘n gegewe - hierdie
keer volg hulle hul droom, come hell or high water.
Met die Genade van Bo (en te danke aan ‘n munisipale amptenaar
of twee wat die visie van ‘n seekos-eetplek op die strand
gedeel het) is die eerste De Vette Mossel staangemaak, die deure
spreekwoordelik oopgegooi en ....die eerste gaste het opgedaag...en
opgedaag...en opgedaag...
Te danke aan uitstekende ondersteuning van nuutgevonde Mossel-vriende,
het De Vette Mossel gegroei en gegroei. Vir die twee is die De
Vette Mossel nog steeds soos ‘n vakansie – kaalvoet
langs een van die mooiste strande in Suid-Afrika, die blye weersiens
van ou Mossel-vriende en die maak van nuwe vriende – elke
dag.
Maar De Vette Mossel bestaan nie net uit Niël
en Laurika nie. Die dosynstuks braaiers, skoonmakers en kombuispersoneel
(die meeste is van die begin hier) is ‘n storie op sy eie.
Net werklose mense is aangestel, opgelei en vandag is hulle onlosmaakbaar
deel van De Vette
Mossel-familie.
Sonder hulle is De Vette Mossel nie moontlik
nie – daarom
dat hulle ook in die winste/vrugte van sukses deel.
Vir ‘n vakansiegeldjie val Niël en Laurika se gesamentlike
vyf kinders en hulle se vriende ook by geleentheid in – moue
opgerol.....
|